|
Moontlike Wyses Waarop Gemeentes by Swaziland Betrokke kan Raak
- Bring ’n groepie gemeentelede vir ’n blote besigtigingstoer na Swaziland
– moontlik oor ’n naweek waar ons dan sommige van die buiteposte kan
besoek en die Sondag ’n erediens kan bywoon. Hierdie blootstelling is
nog nie genoeg nie, maar kan moontlik dien as stimulus om later met
’n ander doel Swaziland te besoek.
- Ons kan per geleentheid ’n evangelisasieveldtog reël saam met een
of meer van die ringsgemeentes, waar die Afrikaanse lidmate dan ook
aktief besig kan wees met die uitdra van die evangelie.
- Daar sal in die nabye toekoms ’n paar bouprojekte aan die gang kom.
Indien ’n gemeente een of twee lidmate het wat bouers is (of goeie kennis
daaroor het) kan ’n span saamgestel word onder hulle leiding om te help
met die bouwerk. Ons wil nie graag meer sulke bouwerk doen sonder die
hulp van goeie bouers nie, maar onder die leiding van ’n Christen-bouer
kan so-iets ’n wonderlike geleentheid wees.
- Stuur u naam deur na my vir die ontvangs van ons nuusbrief – sowel
as die aantal wat so ’n nuusbrief sinvol sal lees – byvoorbeeld by selgroepe
of Bybelstudiegroepe waar die werk in Swaziland ook gereeld op ’n gebedslys
geplaas kan word.
- Vorentoe kan ’n gemeente dalk oorweeg om ’n spesifieke werker of
pos “aan te neem” deur byvoorbeeld spesifiek hiervoor voorbidding te
doen of op ’n ander manier betrokke te raak by die pos. So ’n betrokkenheid
kan uiteindelik alle fasette van die gemeente betrek – van die JKJA
tot by die vrouediens en selgroepe.
- Ons het reeds buite Piet Retief betrokke geraak met ’n evangelisasieveldtog
wat vanuit Swaziland in Suid-Afrika aangebied is. Ons is ook bereid
om op ander plekke hiermee te help.
- Ek wil myself graag beskikbaar stel om op te tree in gemeentes tydens
eredienste of sendingnaweke, ens. Soms hoor ’n gemeente die oproep tot
gehoorsaamheid aan Jesus se laaste opdrag net duideliker as ’n buitestaander
presies dieselfde boodskap verkondig wat reeds tientalle kere tevore
daar gepreek is deur hulle eie leraar.
- Indien u met my wil kontak maak oor enige aspek rondom die sending,
is u meer as welkom om te skryf of te bel.
Dr Arnau van Wyngaard
Posbus 886
Piet Retief
2380
Tel: 017-8261174
Faks: 017-8265461
E-pos: wyngaard@lando.co.za
|