Die Agtergrond van die Swaziland Reformed Church |
|
Die Swaziland Reformed Church se oorsprong kan teruggevoer word na 1946 toe eerw Frikkie Malan in Swaziland bevestig is met die opdrag om sendingwerk binne die grense van Swaziland te doen. Ná hom het verskeie ander persone in Swaziland gewerk, onder andere eerw Jan Greyling en ds Louis Swanepoel. Met die koms van ds Swanepoel, is die land in twee verdeel en het die twee leraars elk verantwoordelikheid vir n gedeelte van die land geneem. Op 31 Januarie 1967 is die Suide en die Noorde saamgevoeg en het dit een gemeente van die NG Kerk in Afrika (NGKA) geword. Di Okkie Britz en Johannes Malan het in hierdie tyd groot werk in Swaziland verrig. Die NG Kerksinodes van Noord-Transvaal, Suid-Transvaal en Wes- Transvaal het in die jare sestig ingewillig om die finansiële las ten opsigte van Swaziland te dra. Verteenwoordigers uit die drie sinodes het n kommissie gestig om die werk te koördineer, wat later bekend sou staan as die Swazilandse Sendingkommissie. (Na die ontstaan van die Sinode van Oos-Transvaal het Noord-Transvaal se verpligting na die nuwe sinode oorgeskuif.) Ds Johannes Malan is in 1977 deur ds Hennie Pretorius opgevolg. In 1978 is daar besluit om Swaziland in drie te verdee1 en teen 1980 was daar drie leraars in Swaziland, naamlik Hennie Pretorius (Manzini), Koos Kriel (Ningizimu) en Willem Fourie (Hhohho). In 1980 is besluit om n pastorie op Siteki te bekom sodat n vierde leraar daarheen beroep kon word. Gedurende 1984/85 het daar n vinnige wisseling van leraars plaasgevind.
In 1984 is ds Koos Louw in Hhohho en ds
Hennie Basson in Lubombo bevestig. Dr
Arnau van Wyngaard is in 1985 in Ningizimu (later is die naam verander
na Shiselweni) bevestig en kort daarna
is ds Wessel Bester in Manzini bevestig.
Vir die eerste keer was daar vier leraars in Swaziland! In 1984 het Swaziland
ook n aparte ring binne die sinodale gebied van die NGKA van Noord~Transvaal
geword. Na n weeklange konferensie onder leiding van prof
Dons Kritzinger in 1987, het die lidmate in Swaziland besluit dat hulle
n eie streeksinode binne die NGKA wil wees. Hierdie besluit is tydens
die sinodesitting van Noord-Transvaal in 1988 goedgekeur en die nuwe sinode
is amptelik op 1 April 1989 gestig. Sedertdien het ds Wessel Bester n beroep na Vila Ulongwe in Mosambiek aanvaar waar hy aan die einde van 2000 geëmeriteer het, ds Koos Louw het geëmeriteer en ds Hennie Basson het n beroep na Ghanzi, Botswana, aanvaar. Tans is dr Arnau van Wyngaard en ds Musa Shongwe die enigste twee geordende leraars oor in die kerk. Hulle word bygestaan deur een opgeleide evangelis, 10 lekewerkers en verskeie tentmakers (lidmate wat in n sekulêre beroep staan maar Sondae help met die hou van eredienste). |
|
Die streeksinode van Swaziland soos dit saamgestel is op 1 April 1989: Amos Makhunga, Koos Louw, Philemon Gama, Josef Sihlongonyane, Hennie Basson, Louis Shongwe, Arnau van Wyngaard en Wessel Bester |
|
Die eerste moderatuur van die sinode, soos gekies op 1 April 1989: Dr Arnau van Wyngaard (Skriba), Ds Hennie Basson (Moderator), Oudl. Josef Sihlongonyane (Assessor) en Oudl. Philemon Gama (Aktuarius) |
|
|